Sunday, June 17, 2007

Belgrade 7 - Afr

Hallo almal

Hierdie keer is dit ek, Stephan aan die woord. Ons het nogal lanklaas iets geskryf, maar dit is ook maar omdat daar nie soveel interessante dinge gebeur het met ons nie. Ons is nog steeds in Belgrade, bly in dieselfde huis en trek nog dieselfde klere aan. Terwyl julle in S.A nou koud kry, sweet ons. Dis koel net af wanneer dit reen - lekker donderstorms.

By die werk het dinge nou so verander dat ons eers Januariemaand gaan terugkom as die Here wil. Die gebruikers van die stelsel wat ons vir hulle insit sukkel om tyd te spandeer aan die projek en dit knie-halter ons vordering, maar ek glo ons sal wel daar kom. Ons wag ook nog in spanning vir ons Kroasie visas om deur te kom. In my lewe het ek nog nooit so baie "red tape" beleef nie nie eers toe ons so
gesukkel het om Anandi uit Indie uit te kry na sy daar gebore is nie. Na 'n maand se sukkel daarmee was dit steeds 'n 7-stap lysie van goed wat ons nog moet kry en doen om die visas te kry!

Ons het darem so een Sondag bietjie Novi Sad toe gegaan met die trein. Dis heelwat kleiner as Belgrade, maar mooi en met baie karakter. Kyk bietjie na die Novi Sad album. Eers was ons na die Petro Varadin fort toe met 'n fantastiese uitsig oor die Donou revier. Irene het haar nuwe stokperdjie om veldblommetjies te pluk, te pars en te identifiseer op groot skaal beoefen tussendeur. Die plein in die middestad het verskeie mooi kerke en baie blomme. En soos op elke plein wat sy sout werd is, was daar die duiwe en die standbeelde en die stalletjies. Aan elke lamppaal is daar 'n pot met blomme vasgemaak. En natuurlik is daar 'n McDonalds... Ons het na ete in die ou straatjies afgestap en in 'n pragtige park uitgekom. Nog een van daardie sprokies-ervarings wat ons elke nou en dan hier teekom.

Ons het ook met 'n ompad 'n pakkie ontvang met die kinders se roller-blades in. (Dankie Nicolai en Sarah) So ons sien nogal meer van die rivier deesdae. Dis tog te lekker om so bietjie in die aande te gaan "stroll en roll" langs die rivier. Anandi laat behoorlik die koppe draai omdat sy so goed skaats vir haar grootte. En soms koop ons roomys en neem foto's. Kyk na ons album van die Danube rivier vir
'n paar mooi sonsondergange.

Met die dat ons nou langer hier gaan bly, het ek gedink dit sal dalk die moeite loon om bietjie in die taal in te grawe. Die taal wat hulle hier en in Kroatie praat, is byna dieselfde. So ons het sagteware gekry wat die taal behoorlik in jou indril en verder oefen ek elke middag met die taxibestuurder - meestal 'n wildvreemde wat ek nou eers moet vertel van my planne om die taal te leer. Ek dink nogal hulle geniet dit om my te help! Maar dis nie maklik nie. Soos ons vriend, Andre, se dis 'n taal met 'n kroniese klinkertekort met woorde soos Cetvrtak (Donderdag) en srtsa (hart). Dan het hulle 'n voorkeur vir 6-lettergreep woorde waarvan ek nog nie een kan onthou nie... Maar die ergste is die grammatika. Dis erger as Hindi of Duits met vreeslik baie verbuigings.

Sondag is dit die comrades en ek het nogal heimwee as ek dink aan laas jaar. Ek draf nog, maar het heelwat afgeskaal - bly net so aan die gang. En dit is nogal snaaks, want die geleentheid vir draf hier langs die rivier en by Kale Megdan is uitstekend. Maar miskien is dit omdat hier maar baie min mense draf en hier is nooit wedlope nie.

Wat die bediening aanbetref het dit nou 'n stil tyd binnegegaan. Bid gerus vir 'n internet vriend van Indie wat skielik 'n soeker geraak het.

Nou ja, ons sal julle op hoogte hou van die draaie wat die lewe met ons vat.

Julle verlangende vriende

Stephan, Irene, Nadia en Anandi

No comments: