Tuesday, July 24, 2007

Oppad

Hallo Almal

Ons is oppad terug SA toe. Ons gaan eers vir so 10 dae in Switersland vakansie hou. Vriende van ons wat naby Zurich bly, gaan dieselfde week wat ons daar is met vakansie, en hulle het ons genooi om in hulle huis te bly. Ons sien nogal uit daarna om die mooi land te gaan verken. Ons sal seker 6 Augustus land in Pretoria. Ons gaan ook ons ouers groet in SA en ons hond in P.E. gaan oplaai. Stephan sal weer die 20ste Augustus begin werk.

Ons het nogal 'n stoomwarm week gehad. Die aircon wat hulle 2 weke terug kom regmaak het, het weer gebreek en ons het behoorlik warm gekry in hierdie "apartment". Die temperature was so tussen 42 en 45. Dit het ons egter gedwing om nie net in die koeligheid te bly nie, maar om die moeite te doen om ons vriende te gaan groet. Ons was Saterdag weer Panceville toe en het heerlik met die familie daar gekuier. Sondag was ook ons laaste diens by die kerk en kon ons almal groet. Ons het na die diens saammet die egpaar wat die kleingroep lei gaan eet by hulle huis. Ons gaan hulle verseker mis.

Daar is baie dinge in Serbia wat ons ook gaan mis: die rivier, die woud, opwindende taxi en bus ritte, die fort, die lekker sjokolades en GROOT hamburgers, ons stort, die baie bankies en parke, rollerblade en roomys langs die rivier, mooi ou geboue, ens. (Stephan voeg by wat kort - my beskrywings is maar beperk) Daar is ook 'n paar dinge wat ons nie sal mis nie, maar ons sal maar fokus op die positiewe :-).

So baie soos ons dit gaan mis, sien ons ook uit daarna om terug huis toe te kom. Dit sukkel maar om alles in te prop in die tasse en ook al die reelings wat nou getref moet word vir vakansie, ens.

Ons sal weer foto's op die blog sit wanneer ons in Switserland is. Sal julle op hoogte hou.

Dankie dat julle die avontuur hier in Serbia met ons gedeel het.

Volim te
Stephan Irene Nadia Anandi

No comments: