Friday, May 18, 2007

Belgrade 6 Afr

Zdravo!

Dit voel asof ek agter is met die skryfwerk, want daar gebeur nogal baie in 2 weke se tyd.

Ons het toe 'n heerlike tyd gehad in Zlatibor. Die pad soontoe (so 250km) was interessant m.b.v. 'n verkeerde draai of twee. Maar elke verkeerde pad het ons by die mooiste plekke uitgebring. So het ons in 'n vallei beland waar die landerye met pastel kleure ingekleur is, met groen woude tussenin met elke skakering van groen waaraan mens kan dink.



Zlatibor sentreer rondom 'n meer en is baie op plaaslike toeriste ingestel. Ek dink ons was seker die enigste buitelanders daar. Maar dis pragtig. Ons het wel gesukkel om die berg te kry. Ek het bietjie gevoel soos "the englishman that went up a hill and came down a mountain". Die berg wat hulle so spog oor is niks meer as groen heuwels nie, maar dit gee nogal baie die effek van "the sound of music". Ons kinders het gehardloop deur die groen grasvelde dat hulle so klein geword het in die verte. En orals het hulle gestop en veldblomme gepluk. Die woude tussenin gee die mooiste effek.



Ons het ook 'n dag lank 'n pad gevolg deur die mooi landskap met die Yugo wat ons gehuur het. Ons het seker 3 karre gekry op die pad die hele dag. Dit het ons by 'n grot met 'n opening van 35m gebring. Hulle het 'n groot hek voor die grot aangebring en ons kon eers nie ingaan nie. Toe uit die bloute verskyn daar so 'n ou man wat die sleutel het. Maar ons Sripski was te min. Gelukkig het daar net op daardie oomblik ander Serbiese toeriste aangekom wat ons kon vertel van die grot. Die man het ons met 'n flitslig die grot van binne gewys. Scary, maar wonderlik! Binne die grot is daar staproetes van langer as 'n km (ek was nogal bly hy het nie aangebied om ons te vat nie). Hy het ons ook 'n waterval binne die grot gewys (die rivier vloei deur die grot). En dit alles gratis! Dit was wonderlik.



Daarna het ons by 'n buitelug museum gestop. Daar is 'n hele dorp van houthuise wat hulle oppas. Dit wys hoe mense geleef het en selfs nou nog lewe en hulleself onderhou. Ons was op daardie stadium baie honger en het gestop by 'n restaurant waar ons serbiese hamburgers geeet het terwyl vrolike serbiese volksmusiek gespeel het in die agtergrond.



Ons laaste stop was by 'n waterval van 20m. Maar dis nie waar dit stop nie. Die waterval kronkel in twee sulke strome af teen die berg en vorm nog watervalle tot onder. Dit was baie mooi. Van daar af het ons die pad terug probeer kry. 'n Bordjie was gese het Zlatibor het ons op 'n grondpad gebring waar ons eintlik deur die woude gery het. Die takke het so oor die pad gehang en 'n tonnel gevorm. En dit is die helderste groen blare wat ek nog gesien het. Die pad het ons ook op die hoogste punt in die area uitgebring. Ons kon elke kant van ons sien tot in die verte. Dit was asemrowend en die stilte was wonderlik.



Ons het verlede naweek ook weer in Panceville gaan kuier. Dit was heerlik om weer te kon saam kuier met die gesin daar. Stephan het weer gepreek daar (ook Sondag by Assemblies). Hy het een goeie illustrasie in sy preek genoem van 'n selfoon en swiss army knife, twee goed wat heeltyd in sy broeksakke bly. Die parallel wat hy getrek het met die Bybel is, bly in kontak met Jesus in gebed (selfoon) of doen dit self (swiss army knife) - Joh. 15.

Ek voel al baie home-sick. Ek het iewers die quote gehoor: "You cannot have roots and wings". Ek het gedink hoe dit by die Bybel inpas. Ek dink gevestig in Jesus kan ons sweef soos arende, maak nie saak waar ons is nie. Maar ons bly maar mens en ek verlang, so skryf asb. :-)

Liefde
Stephan Irene Nadia Anandi

No comments: