Wednesday, March 21, 2007

Belgrade 2 Afr

Liewe vriende en familie

Ons is nou al amper 2 weke in Belgrade (Beograd/Wit stad). Dit is vir ons 'n lekker stad om te ontdek.



Ons was die naweek by Kalemegdan. Dit is in die middel van die stad en ook die plek waar die Sava en Danube (Dunav soos hulle dit noem) riviere bymekaar kom. Ons het 'n boek opgespoor wat geskryf is (in Engels!) deur een van die stad se bekendste kunstenaars en skrywers, Momo Kapor, "A guide to the Serbian Mentality". Hy beskryf die Danube so: "The Danube foams like Swabian beer. He drinks like a Russian, 'bottoms up!', and with pangs of conscience; amidst merriment he is capable of secretly drawing a knife like a Bulgarian; he can utter a curse in Hungarian." Vir ons was Kalemegdan 'n heerlike groot tuin met baie hoë bome en bankies en speelplek vir die kinders.







Sondag was ons by St. Sava. Dis 'n ortodokse kerk wat hulle besig is om te restoureer. Hulle trek die hele kerk met marmer oor en dit het my nogal herinner aan die Taj Mahal.



Hulle beeldjies en prentjies van al die saints laat my ook dink aan die Indiese afgode. Ek kan dit seker nie so direk toepas nie, maar dit lyk maar net vir my baie dieselfde. Kyk maar self. Twaalfuur het die klokke begin lui. Dit was baie mooi en helder.






Dit gaan goed met die taal. Ek moet hierdie week probeer om getalle te leer, want al kan ek vra hoeveel kos dit in Sripski, weet ek nie wat hulle antwoord nie. Nogal 'n dilemma. Ek kry ook baie mense wat vir my iets vra in Sripski, en dan moet ek maar erken dat ek nie 'n local is nie. Ek antwoord hulle dan sommer in Hindi ('n refleks), maar ek kan maar net so goed Afrikaans ook praat.



Dis nogal lekker om in te smelt tussen die mense sonder om so uit te staan as 'n vreemdeling. Ons het ook die stad se vervoerstelsel intussen baasgeraak en kan nou met gemak 'n bus vang tot in Centar/Slavia.



Ek het hierdie week twee mense ontmoet wat Engels praat. Die eerste was 'n vrou wat ek in die park ontmoet het. Sy het my vertel dat sy saam met haar skoonouers en swaer in dieselfde huis bly. Hulle is dus 3 gesinne wat in een huis bly met een kamer per gesin. Haar man is 'n bakker. Hulle het nou een seuntjie van amper 'n jaar, Martin. Sy sê dat dit vir hulle baie moeilik is. Die ander was 'n dogtertjie van omtrent Nadia se ouderdom (7/8). Sy sê dat sy in Amerika gebly het in die tyd wat daar oorlog was in die land. Sy wou nie doodgaan nie. Toe hulle gesin die stad verlaat het, het hulle gesien hoe mense doodgaan toe die bomme op die stad geval het.



Die laaste bomme het in 1999 geval. Ons het verlede week verby geboue gery wat duidelik gebombardeer is. Dis hartseer, maar die mense is stadig besig om weer hulle land op te bou. Oral sien jy hoe mense hulle huise nuut maak en elke oop stuk grond word op gebou. Ons bly in 'n straat wat eers genoem is Yugoslavian Army Road, maar dis verander na Oslobodenja wat beteken vryheid. Ons het in die Belgrade Times (die enigste Engelse koerant wat weekliks uitkom) gelees dat Kosovo dalk nog 'n krisis kan veroorsaak. Daar moet besluit word of Kosovo onafhanklik van Serbia gaan word of nie. Ons bid dat 'n vreedsame oplossing gevind sal word.



Met Stephan se werk gaan dit goed. Hulle vorder mooi. Ons wag net vir die kontrak om geteken te word. Dit sal beteken dat ons moontlik uit die hotel na 'n apartment kan skuif. Ons sien uit daarna om weer self kos te maak en wasgoed te kan was in 'n masjien (die hotel vra so duur ons kan maar eerder nuwe klere gaan koop!). Maar ons word elke dag bederf met skoon lakens, handdoeke en 'n groot ontbyt.

Ons het uiteindelik ook kontakte van kerke opgespoor. Daar is heelwat en ons sal maar die naaste een gaan besoek. Ons hoop ons sal gou iewers 'n kerk kry waar ons tuis voel.

3 comments:

Gert said...

HI Lyk my julle sien n hele ander deel van Balgrade as wat ek gesien het. Ek kon nie die bus ding reg kry nie. Het maar met Taxi gery waar ek wou wees. Was julle al by die zoo daar is n baie mooi eet plek waar hulle musiek speel in die aand.

Irene said...

Gert. Was nog nie by die zoo nie. Wou dit maat los vir 'n ander keer. Genoeg gehad om te sien vir een dag. Mens moet net weet watter bus om op te klim, anders kom jy dalk op 'n heel ander plek uit.

Gert said...

Hi Ek weet nie of julle in Eropa gaan rond loop nie. Maar ek het Www.dohop.com (Flight planner gebruik) Maklik en die beste vir vlugte.