Thursday, March 29, 2007

Belgrade 3 Afr





Dit gaan goed met die Van der Merwes in Belgrade. Hierdie week het ons minder verken, maar een groot verandering is dat ons na 'n "apartment" geskuif het.



Dis 'n welkome verandering en ons geniet dit baie. Dit het wel nuwe uitdagings.





Die kinders het so baie gehou van die nuwe plek dat hulle albei besluit het om nooit weer buite toe te gaan nie. Ek skat al is dit 'n avontuur is die veranderings van die laaste ruk nie altyd ewe lekker nie. Maar dit gaan baie goed met hulle en ons het al klaar weer 'n paar keer langs die rivier gaan stap (al waai die wind ons amper in die rivier in!).



Die ander ding wat 'n uitdaging is, is om inkopies te doen. Ons kan nou kos maak en dit beteken jy moet bestanddele koop. En die mense kan mos nie Engels lees of praat nie. So ek staan omtrent lank voor 'n rak voor ek weet watter label pas by watter produk. Maar dis darem nie so erg nie, in Indie het ons nie geweet wat die produk is nie :-). Maar ek moet se dis moeilik om te weet watter meel is watter - dit lyk mos maar dieselfde. Ek het ook agtergekom dat dit maar beter is om met die kasier te praat as sy in Srpski begin babbel, want sy dink of ek is bietjie snaaks of ek verstaan nie 'n woord wat sy sĂȘ nie. Hulle het darem nog almal laasgenoemde geraai.
Daar is net 'n paar dinge wat julle moet weet van ons nuwe apartment. Dit is net 300m van die Danube rivier af. Daar is 'n heerlike staproete al langs die rivier af.



Ons kan Kalemegdan van hier af sien (dit is miskien omdat ons op die 8ste vloer is - heel bo!). Ons sal die naweek daarheen probeer stap as die weer saamspeel (wil dit nie alleen probeer nie, want wil nie twee kinders alleen huistoe dra nie).


Maar die beste deel is die stort. Dis die hoogtepunt van my dag! Daar is 'n radio, ligte, sauna en voet-massage in. Ek het al al die knoppe probeer (mens moet maar versigtig wees, want jy weet nie uit watter rigting die water volgende spuit as jy so begin knoppe draai nie). Dit alles gebeur op die maat van vrolike radio musiek. Ek is skoon uitasem as ek klaar is, maar het darem nog altyd genoeg energie oorgehad om die skottelgoed te was daarna ... in die skottelgoedwasser ('n luxury vir ons).




Ek het hierdie week een middag in die hysbak ons buurvrou ontmoet, Anna. Sy praat Engels en het my ook genooi om te kom vra as ek iets nodig het (ek dink dat ons dalk saam winkel toe moet gaan). Ek was so opgewonde om uit te vind dat ek my buurvrou kan verstaan. Ek hoop ek sal haar beter leer ken.


Ons was Sondag by die "Assemblies of God". Dis 'n baie gesellige gemeente wat in 'n apartment bymekaar kom. Daar was omtrent 20 mense. Ons was laat, want Saterdagnag het ons tyd met 'n uur aangeskuif (ons is nou weer op dieselfde tyd as julle in SA). Maar dis blykbaar 'n algemene verskynsel en hulle het bietjie later begin. Ons het die lofprysing en aanbidding geniet. Hulle het 'n professionele orkes (met 'n vioolspeler). Die pastoor en sy vrou kan Engels praat, maar preek in Srpski. Daar was nog 'n vrou wat Engels kon praat en sy het vir ons probeer tolk. Die pastoor het Stephan genooi om te preek as ons nog die 15de April in Belgrade is. Bid asb. vir sy voorbereiding. Die gemeente het meer as die helfde van sy lidmate verloor toe Bosniers geforseer is om terug te keer Bosnie toe. Hulle het 35 gesinne so verloor, maar hulle is weer besig om te groei. Hulle sukkel ook met registrasie. Die probleem is dat die wette gedurig verander en dan moet almal weer registreer. Die pastoor se naam is "money" (se dit met 'n Russiese aksent). Hy kom van Bosnie af, sy vrou van Croatia en hulle dien in Serbia.


Ek, Stephan, werk maar hard - die laaste week elke aand tot ten minste 12. En ons het ook die taalprobleem... Dit lyk asof hierdie projek deurgaans met groot druk gepaard kan gaan, maar ons het darem ook baie humoristiese oomblikke en dit maak dit draaglik.



Dis seker genoeg vir eers. Sal weer van ons laat hoor.


Liefde
Stephan en Irene

No comments: